Mei 2020 –Die uitvoerende hoof van Lew Geffen Sotheby’s International Realty, Yael Geffen, het die verlaging van 50 basispunte in die repokoers as “uiters positief” bestempel en sê dit gaan die eiendomsmark, wat reeds in die moeilikheid is, meer woema gee.
Lesetja Kganyago, president van die Reserwebank, het Donderdag aangekondig dat die koers tot 3,75% per jaar gesny word. Die repokoers is die koers waarteen die Reserwebank geld aan handelsbanke leen. Dit beteken dit is goedkoper om skuld aan te gaan.
“Die (Covid-19) afsonderingsregulasies wat ons dwing om ons deure toe te hou terwyl ander professionele dienste weer toegelaat word, is irrasioneel en ‘n groot getal eiendomsagentskappe gaan net nie weer herstel nie,” het Geffen gewaarsku.
“Vir diegene wat wél die strenger afsonderingsvlakke oorleef, gaan gretige nuwe markte op hulle wag wanneer hulle heropen.”
Diegene wat vir die eerste keer eiendom koop, val in dié kategorie.
“’n Prima uitleenkoers van 7,25% is ongehoord in dié land en finansiële instellings gaan meer kapitaal beskikbaar hê om aan huishoudings en nuwe beleggers te leen,” het sy gesê.
Geffen stem saam dat die monetêre beleidskomitee korrek is as hy sê dat monetêre beleid alleen nie die groeipotensiaal van die ekonomie kan verbeter, of die fiskale risiko’s kan verminder nie.
Sy sê die komitee het dit duidelik gemaak dat daar inwerkingstelling van versigtige ekonomiese beleid en strukturele hervorming moet wees wat koste in die algemeen verlaag, beleggingsmoontlikhede verhoog en werk skep – en dat dít die regering se plig is. “As land het ons duidelik ‘n verantwoordelike aanslag nodig om die huidige pandemie te bestuur, maar nie ten koste van die hele ekonomie nie.
“As die regering nie nou nog ekonomiese deure open nie, soos om handel in die eiendomsmark toe te laat waarvan die waardeketting 6% tot die BBP bydra, gaan daar uiteindelik nie ‘n land oorbly om te red nie.
“Ons mense moet werk, hulle moet hul gesinne van kos voorsien en hulle benodig ‘n dak oor hul koppe. Vir dié dinge om te gebeur, het ons ‘n funksionerende ekonomie nodig en ons bedank die monetêre beleidskomitee dat hy ‘n groot stap gedoen het om dit ‘n werklikheid te maak,” het Geffen gesê.
Joff van Reenen, direkteur van High Street Auctions, sê die rentekoersverlaging gaan help om die ongekende en kommerwekkende ekonomiese gevolge van die Covid-19-pandemie teen te werk.
Van Reenen sê geskiedkundige lae vlakke soos dié gaan likiditeit verbeter en dat hulle reeds die positiewe uitwerking van die vorige drie rentekoersverlagings die afgelope jaar gesien het.
“Daar is min veilige hawens in sulke onbestendige markte en met geen internasionale reëls vir ‘n situasie soos die een waarin ons ons tans bevind nie, bly eiendom selfs in dié sogenaamde nuwe normaal ‘n aantreklike opsie.”
Hy sê hulle sien deesdae ‘n skerp styging in belangstelling in nywerheidsruimtes wat vinnig omgeskakel kan word in byvoorbeeld verskaffingsentrums, asook luukse “wegbreekstyl”-eiendomme soos bosveldlodges met alles wat oop-en toemaak.
Die rand het sedert Januarie met 22% teen die Amerikaanse dollar verswak en Van Reenen sê hoewel dit nie goeie nuus vir die plaaslike mark is nie, is daar meer belangstelling as ooit van buitelandse beleggers wat – volgens hulle somme – langtermynbeleggings in Suid-Afrika teen beduidend verlaagde pryse kan maak.
“Ons het die afgelope maand ‘n lodge in die Mabula-reservaat in Limpopo aan ‘n Amerikaanse belegger verkoop sonder dat die belegger eens ‘n voet daar gesit het, maar wat die eiendom aanlyn gevind, ‘n kosteberekening gedoen en besluit het daar hoef nie eens twee keer oor die besluit nagedink te word nie,” het Van Reenen gesê.
Nóg rentekoersverlagings word vir later vanjaar voorspel.
Lees meer: Maroela Media